AFRIKAANSE SPROKIES

Title:DIE SKEUR IN DIE BERG
This text will be replaced
Subject:FICTION Scarica il testo


Die Mooiste Afrikaanse Sprokies
uitgesoek en oorvertel deur
PIETER W. GROBBELAAR

DIE SKEUR IN DIE BERG
Die verhaal van 'n man of seun wat in 'n bergskeur vasval en uiteindelik met 'n geweerskoot uit sy lyding verlos moet word, is in talle dele van ons land bekend en dikwels word dit as 'n ware gebeurtenis vertel. In een van die oudste vorme waarin dit opgeteken is, word dit egter heeltemal 'n sprokie.
Neef Thys en neef Sagrys het gaan jag. Op die vlakte kon hulle nie veel kry nie. Toe kies hulle die berge, maar die wild bly skaars. Taamlik moeg en moedeloos saal hulle onder 'n groot boom af
"Ek pak solank 'n vuurtjie aan, dan kan ons 'n bietjie water kook," sê neef Thys.
"Ek gaan solank die water haal, dan kan ons 'n bietjie koffie maak, sê neef Sagrys. Hy stap al agter die geluid van 'n stroompie aan. Maar die fontein is dieper in 'n kloof as wat hy gemeen het, en toe hy soontoe wil afklim, gly sy voet en stort hy in 'n klipskeur af.
"Help! Help!" skree neef Sagrys.
"Help Help!" skree die weerklank.
Neef Thys skrik waar hy by sy vuurtjie sit. Hy spring op. "Ek kom! Ek kom, my vriend!" roep hy.
So soek neef Thys terwyl sy vriend aanhou kerm en die weerklank aanhou koggel tot hy die plek kry. Maar die skeur is te diep om hom by te kom, en dit is te nou om in te klim.
"Ek breek net eers 'n lang tak af," sê neef Thys. "Maak gou! Maak net gou!" soebat neef Sagrys.
"Maak net gou!" soebat die weerklank.
Maar die langste tak wat neef Thys kan kry, is nog te kort om sy vriend by te kom.
"Ek gaan net eers 'n riem haal," sê neef Thys,
"Maak gou! Maak net gou!" smeek neef Sagrys.
"Maak net gou!" smeek die weerklank.
Neef Thys bring die riem, Maar hy kry sy vriend nie gehaak nie, want die skeur is glad te nou. En neef Sagrys kan dit nie vat nie, want sy arms is vasgeval.
Die dag word al hoe warmer, en neef Sagrys word al benouder. "Nee, ek kan nie meer nie," kreun hy.
"Ek kan nie meer nie," kreun die weerklank.
Neef Thys is radeloos, en hy weet nie wat om te sê nie, maar neef Sagrys praat weer. "Gaan," sê hy. “Gaan haal my geweer. Dan kom jy my uit my lyding verlos."
“Nog nooit nie!" roep neef Thys uit. "Hoe kan ek dan my eie vriend doodskiet?"
“Hoe kan jy dan jou vriend hier sien sterf van honger en dors?" vra neef Sagrys.
So praat hulle en stry hulle, totdat neef Thys self insien dat daar geen ander uitkoms is nie. Met 'n swaar hart stap hy weg. Dom laai sy vingers die geweer. Trane in die oë kom staan hy by die skeur.
"Vaarwel, my vriend!" fluister hy.
"Vaarwel!" fluister neef Sagrys.
"Vaarwel!" fluister die weerklank.
Toe krul neef Thys se vinger om die sneller. Meteens is daar 'n gedonder en 'n gedreun. Die geweer val uit sy hande. Dit kletter op die klippe, en die weerklank kletter agterna.
Neef Thys knyp sy oë toe om liewers nie te sien nie. Hy druk sy vingers in sy ore om liewers nie te hoor nie. Hy is te stom geskrik om te praat.
Eindelik maak hy sy oë weer oop. Hy laat sy hande sak. "Wat sou dit nou wees?" sê hy hardop.
"Hoekom help jy my dan nie?" vra 'n stem. Dis neef Sagrys.
"Help jy my dan nie?" vra die weerklank.
Toe kom neef Thys eers agter dat dit 'n aardbewing was wat die berg nog wyer oopgeskeur het sodat neef Sagrys nou los in 'n kloof lê. Hy klim dadelik na hom toe af en help hom uit. En nadat hy hom 'n bietjie koffie gegee het, voel neef Sagrys sommer beter.
"Sjoe!" sê neef Thys. "Dit was nou amper vir jou 'n moles."
"Amper," beaam neef Sagrys.
"Amper," beaam die weerklank.

...

  • Libri.it

  • Libri.it