AFRIKAANSE SPROKIES

Title:SOP MET 'N SKOP
This text will be replaced
Subject:FICTION Scarica il testo


Die Mooiste Afrikaanse Sprokies
uitgesoek en oorvertel deur
PIETER W. GROBBELAAR

SOP MET 'N SKOP
Die Boesmans het die dierewêreld fyn deurgekyk. Daarom is Leeu vir hulle die sterke, Wolf soos Hiëna dikwels genoem word 'n wreedaard, en Jakkals 'n lafhartige bedelaar.
Wolf het 'n ver pad geloop om by sy broer te gaan kuier. Nou is hy honger en dors. In die veld kry hy Leeu wat aan 'n sebra lê en eet. 'n Entjie weg sit Jakkals vir 'n bietjie oorskiet en wag.
"Naand, Leeu,'' sê Wolf vriendelik.
"Mmm," sê Leeu, en hy kraak 'n murgbeen oop.
Wolf gaan op sy hurke sit. "Hoe lyk dit, nooi jy my dan nie om 'n stukkie saam te eet nie?"
"Ja, ja!" sê Jakkals gretig.
"Bly stil!" sê Wolf, en Jakkals gee 'n paar tree pad.
"Nee," sê Leeu, en hy skeur aan die boud se sagte vleis.
"Net so 'n bietjie soppies om op te lek," vra Wolf. "Ek is baie dors."
"Ek lek my eie sop," sê Leeu.
"Net 'n ou murgbeentjie om af te eet," soebat Wolf.
"Dè, vat dan!" sê Leeu, en hy gooi vir Wolf die been wat hy nou net self droog gesuig het.
“En wat van my, Leeu ? " vra Jakkals met 'n huilstem.
"Trap!” sê Leeu, en hy mik met sy voorvoet.
Jakkals verskuif nog 'n entjie verder weg.
Wolf vat die been, en hy kou daaraan asof hy tog te lekker kou, en hy suig daaraan asof daar baie te suig is. Toe staan hy op. "Baie dankie, Leeu,'' sê hy. "Ek sal sulke vriendelikheid nie vergeet nie. Kom eet gerus môreaand 'n bietjie sop by my.
"Dankie, ja," sê Leeu, en hy lek al klaar sy lippe af, want hy weet Wolf se maats is dood as dit by sop kook kom.
"Dankie, ja!" sê Jakkals asof Wolf hom ook genooi het, en hy gaan lek die droë been af wat Wolf laat agterbly het.
Agter die bultjie kom Wolf op 'n volstruis af. Dis net vere en voete, en toe begin Wolf weglê. Die stuk wat oorbly, sleep hy saam huis toe. "Eet julle maar die vleis, " sê hy vir sy vrou en kinders. "Laat bly net die bene vir my."
Die volgende dag sit Wolf twee potte op die vuur vir die volstruissop. Die een pot haal hy betyds af om koud te word, maar die ander pot hou hy kookwarm.
Dis ook nie te lank nie, of hier kom Leeu aan met Jakkals op sy spoor. "Hoe lyk dit met daardie sop waarvan jy gepraat het, Wolf?" vra Leeu.
"Ja, hoe lyk dit met die sop?" vra Jakkals.
"Kom sit maar hier in die ry," sê Wolf, en hy beduie waar sy vrou en kinders al wag.
Vrou Wolf hou haar mond oop, en Wolf gooi in, maar dis van die koue pot s'n. So gaan hy van kind tot kind, en hulle drink tog te lekker. Maar toe hy by Leeu en Jakkals kom, skep hy twee bekers van die vuurwarm sop uit. "Maak wyd oop!" sê hy, en hulle maak so.
Toe gooi hy.
Leeu wil nog sluk, toe spu hy al dat die sop met so 'n wye boog staan. "Sjoe, vriend Wolf," sê hy kortasem, “maar jou sop is vandag darem kwaai.''
"Dis van 'n volstruis se bene," sê Wolf. "Dié voël kan mos so kwaai skop. Wil jy nog 'n bietjie hê?"
“Nee, dankie,'' sê Leeu, "ek dink ek loop maar weer."
En Jakkals? Hy kan nie insluk nie, want dis te warm. En hy kan nie uitspu nie, want hy is te bang vir Wolf. Daarom sit hy so met die trane wat oor sy wange loop. Maar toe Leeu wegdraf, draf hy saam, en hy maak sy mond agter 'n bossie leeg. En nou nog as Jakkals so in die maanskyn wag dat Leeu klaar moet eet, en hy dink aan daardie sop, dan begin hy sommer van nuuts af huil.
Luister maar mooi.
"Kwaai sop!" tjank Jakkals. "Volstruissop! Volstruissop met 'n skop!"

...

  • Libri.it

  • Libri.it